DANIEL EEUWRICK

Doopname en van: Danie Eeuwrick Bekker
Verhoognaam: Daniel Eeuwrick
Waarom? Danie kom van Daniël (Sy oupa se naam) – Eeuwrick is sy tweede naam. Sy pa se naam is Eeuwrick. Danie Bekker is sy argitekpraktyk se naam.
Gebore, getoë en gevestig: – Gebore en grootgeword in Bloemfontein.  Woon tans in Beachview net buitekant Port Elizabeth.
Akademiese agtergrond: Laerskool Universitas en Hoërskool Grey Kollege en Jim Fouché tot matriek. Het argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer.
Beroep: Argitek. Bedryf sy eie argitekpraktyk.
Musikale agtergrond: Speel musiek van skooltyd af. Het  in restaurante en kroeë gespeel vir ekstra geld om te help betaal aan sy studies. Het in 2009 weer begin speel en sy eie musiek begin skryf.
Raakpunte tussen die kreatiwiteit en dissipline van argitektuur, liedjieskryf, musiek en sang: Albei  begin met ‘n konsep wat dan ontwikkel in ‘n meer gedetailleerde produk en eindproduk.  In albei het jy ‘n span wat help om dit te doen. By ‘n gebou ontwerp en bou die span ‘n gebou; by ‘n liedjie ontwerp en bou die span ‘n liedjie of album  Albei verg konsentrasie en vernuf. Dit verweef kunstenaarsvryheid asook ‘n ‘mindset’ wat in die eindresultaat gesien of gehoor kan word. Albei is ‘n vorm van kuns met verskillende spelers.
MUSIEKLOOPBAAN

DISKOGRAFIE

Albums

  • Op ‘n leë Paron (Wolraadt & Sigeunerskind)
  • Oulap se Pad

Musiekvideo’s

  • Oulap se Pad
  • Aan Uys Krige (Ingrid Jonker)
  • Wolraadt
  • Seepsteensoldate
  • O, Moja, jy’t my das kom knop
  • Die stem van my siel
  • Jy en jou Adamas

ALLES IN DIE NAAM

Daniel Eeuwrick is as Danie Eeuwrick Bekker gebore.
Danie kom van Daniël (sy oupa se naam), Eeuwrick (sy pa se naam) is sy tweede naam.

Eeuwrick is ‘n naam wat opgemaak was vir sy pa met sy geboorte in 1938, die jaar van die Eeufeesvieringe van die 1838-Voortrekkers se groot trek uit die Kaap uit.  “Eeuw” verwys na die Nederlandse woord vir eeu en  “rick” kom van sy pa (Danie se oupa) se naam Fredrick.

Danie Bekker is sy argitekpraktyk se naam.

Baie mense noem hom baie verskillende name. .

  • Sy ma (voor sy oorlede is) het hom Daantjie of Daan genoem – as hy moeilik was het sy kom somtyds ‘n regte ‘Kruidjie-roer-my-nie’ genoem. Sy pa noem hom soms Daan, maar meestal Danie.
  • Sy suster noem hom Boetie of Boeta.
  • Sy swaer noem hom met tye Kedaan.
  • Sy peetkind (susterskind) noem hom nes sy ma, Daantjie, as sy hom om haar pinkie wil draai – en somtyds Danie.
  • Die meeste van sy familie noem hom Danie.
  • Sy beste vriend, Louis van der Walt, van primêre skooldae – hulle is soos broers vir mekaar – noem hom soms Ouboet.  Met tye noem hy sy vriend Blouste maar meestal Louis.
  • As kind het die bure en straatmaatjies hom Thabo genoem. Nou nog, as hy van daardie mense raakloop, waar ook al, noem hulle hom nog Thabo – ‘n naam wat vir hom gegee is as baba by geboorte, deur die Afrika-vrou, Bettie Nteta, wat hom grootgemaak het. Sy was sy tweede ma. Thabo beteken ‘happiness’ of ‘joy’.
  • Op hoërskool het sommige van sy vriende en vriendinne hom Daffer genoem – gedoop deur sy vriendin Adri Herlé King. Haar bynaam was Huffer.  Hy het geen idee hoekom nie!
  • Danie, Dan (soos in Engels) en Daniel (Engels en Afrikaans) is seker die mees algemene tussen sy vriende en kennisse.
  • Dan – want dit klink glo vriendelik en maklik op die tong.
  • Daniel – na aanleiding van sy stage-naam.

GESINSWORTELS

Sy pa, Eeuwrick (Didi), en ma, Martha (Marie), Victor gebore, is albei in Bloemfontein gebore en het daar grootgeword.  Hy en sy suster – Belinda (drie jaar ouer as hy) is albei ook daar gebore.  Hulle het daar grootgeword – in dieselfde huis waarin sy pa nou nog woon; dieselfde huis waarin sy pa-hulle gewoon het toe hy gebore is.

Pa

Sy pa was ‘n gekwalifiseerde gereedskapsmaker. Hy het baie vinnig in sy loopbaan gevorder tot die hoof en bestuurder van baie tegniese ontwerp- en vervaardiging- afdelings by Transnet – waar hy afgetree het. Dit was vir hom baie belangrik dat Danie verder moes studeer. Hy is 78 jaar oud en nog baie gesond en aktief. Danie was en is baie lief vir sy pa.

Ma

Sy ma was ‘n boekhoudster tot by haar aftrede.  Sy wou ook gehad het dat Danie verder gaan studeer, maar sy sangloopbaan was ook vir haar belangrik.  Sy het hom baie ondersteun by musiekkompetisies en optredes tydens sy skoolloopbaan. Hulle het baie saam musiek geluister en liedjies bespreek.  Sy kon self die orrel en trekklavier speel.
Sy ma is onverwags in 2001 oorlede, ná komplikasies tydens ‘n eenvoudige roetine-operasie in Bloemfontein. Dit het almal se harte gebreek en Danie baie erg getref.
Hy was en is steeds baie lief vir sy ma.

Suster

Danie en sy suster, Belinda, het van kleintyd saam gespeel.  Hy het haar altyd gespeel-terg en haar siel versondig – maar nou lag hulle lekker daaroor.  Hoewel sy baie stiller en rustiger is as Danie, het hulle nog altyd goed oor die weg gekom.  Belinda het as ‘t ware hul ma se plek in Danie se lewe ingeneem.  Hulle gee baie om vir mekaar en, hoewel hulle nie naby mekaar bly nie, praat hulle soms lank oor die telefoon.  Belinda het besluit dat Danie peetpa moet wees van haar enigste kind, Nicolene. Hy is.

KINDERTYDHERINNERINGE

Danie was nooit popular op skool nie; meer eenkant buite die kring gestaan. Hy is wel as prefek op laerskool en later op universiteit as A5 lid van die Argitektuur Fakilteit benoem, maar hy het dit van die hand gewys. Dit was bloot nie vir hom nie want hy wou nie ʼn prefek en perfek wees nie!

Sport

Op laerskool het Danie vir sy skool, Laerskool Universitas, se aflosspan die derde been gehardloop vir Vrystaatskole. Hy het ook krieket gespeel en resiesduiwe gevlieg tot in hoër skool, waarna  sy belangstelling in kitaar en sing oorgeneem het. Hy het op hoër skool en sy universiteitsdae, sokker en muurbal gespeel.

Musiek

Ná sy laerskooldae het sy ouers vir hom ‘n kitaar vir Kersfees gekoop.  Hy het kitaarlesse begin neem by onder andere Darrel Johnson, van die musiekskool ‘Beautiful Noise’ by die Tegniese Kollege Bloemfontein. Daarna het  Danie homself verder geleer deur na ander musiekante te kyk en te luister.

Eerste orkes

Danie onthou hy en sy eerste orkes – Die Hoewe Boewe – het  een Saterdagmiddag op hoër skool hul instrumente en klanktoerusting in sy slaapkamer opgestel en met een moerse ‘bang’ daar weggetrek. Hy het nie besef hoe hard dit gaan wees nie – maar die volgende oomblik toe sien hy net sy ma en pa se geskokte gesigte en groot oë deur die skrefie van die deur wat hulle versigtig oopgemaak het… Danie het vergeet om hulle vooraf te vertel van die oefening.  Hulle het nog lank daarna oor daai dag gelag!

Danie vertel die skoolhoof van Hoërskool Jim Fouche was redelik konserwatief in sy denke; ‘n redelik algemene ding van die 80’s in Suid-Afrika.  Jaarliks was daar ‘n kultuur-aand gehou waaraan die skoolkoor deelgeneem het en klassieke werk uitgevoer is.  Dit was tradisie. Almal is gedwing om soontoe te gaan. Dit was ‘n redelike stywe aand vir tieners wat nie regtig in klassieke en koormusiek belang gestel het nie.
Soos Danie se musiek, sang en kitaarspeel meer bekend geraak het, het hulle ‘n rock/pop-orkes buite die skoolgrond gestig en aan die liedjies, wat daardie tyd bekend was by al die tieners,  geoefen en op partytjies gespeel. Só het Die Hoewe Boewe ontstaan.

Eerste optrede

Dit is toe dat een van die onderwysers Danie en sy orkes gevra om by die kultuur-aand op te tree. Dit was ‘n Vrydagaand. Toe hulle op die verhoog verskyn met elektriese kitare en tromme en hy begin sing, ontaard die vervelige, stil en rustige kinders in gejuig en gegil en selfs die onderwysers – wat moes toesig hou – het opgestaan en saam met die beat begin hande klap.  Sy openingsliedjie was Lodi van CCR.
Daardie Maandagoggend ná saal  het die skoolhoof Danie oor die interkomstelsel na sy kantoor ontbied.  Hy is toe gewaarsku dat hy geen “Boewery” in sy skool sal duld nie en dat Danie al reeds met sy een voet buite die skoolgrond staan en dat hy klaar ‘n koper vir sy baadjie het…
Maar: Kultuur-aande by die skool was nooit weer dieselfde nie.  Met die volgende jaar se kultuur-aand was daar sommer toe al twee bands op die stage!
Omdat Danie se pa bekommerd was dat sy musiek met sy akademie sal inmeng, het hy Danie se kitare en klanktoerusting vir die duur van sy matriekjaar weggevat.

Platekontrakte

Met die begin van Danie se studies as argitek het hy weer die kitare opgeneem en ná ‘n talentkompetisie in sy eerste jaar is hy ‘n platekontrak aangebied. Maar, hy moes dit van die hand wys weens sy studieverpligtinge.  Deur sy varsity-tyd het hy by pubs en restaurante opgetree om te help om sy studies te betaal.  Danie het ‘n tweede band – Cosmos Factory Complete – op die been gebring en hulle het in sy tweede en derde jaar verskeie optredes gehad.
Danie het ook verskeie solo-optredes by gesellighede gedoen en deur die loop van sy studies is hy nog twee keer platekontrakte aangebied wat hy weer van die hand moes wys.

Danie en sy pa het ‘n ooreenkoms gehad dat, sodra hy klaar gestudeer het, hy homself meer aan sy musiekloopbaan kon wy.  Een van sy begeertes was om musiek te gaan swot nadat hy sy argitekgraad gekry het.  Hy onthou nog die dag nadat hy sy graad gekry het, het hy vir sy pa R80 gevra om ‘n kitaarpedaal te koop. Sy pa het dit vir hom gegee. En Danie het daardie pedaal nou nog!
Danie kon egter toe nog nie ʼn musiekloopbaan volg nie, want, toe hy sy graad kry, moes hy as ‘n argitek-in-opleiding twee jaar prakties gaan doen voor hy sy finale praktiese eksamen kon skryf.

Maar, hy het nooit ophou speel nie: by pubs, restaurante, winkelsentrums, house shows… Danie het selfs twee kerk-bands gejoin tot 2001 – toe sy ma skielik oorlede is. Hy het alles weggepak – vir agt jaar tot en met 28 Maart 2009 toe hy Anton Goosen vir die eerste keer by sy show ontmoet het. Toe begin hy weer. Maar dié keer het Danie nie nét covers gesing nie; hy het begin oplees oor hoe om jou eie musiek te skryf.  Sy eerste liedjie was Die Ballade van Wolraadt en Adamastor; die res is history.

Danie se pa en sy familie ondersteun hom en sy musiek ten volle. Danie is tevrede met sy professionele loopbaan en meen hy het baie as ʼn argitek bereik;  nou is dit tyd om ook sy droom van 35 jaar gelede ten volle aan te gryp!

STOKPERDJIES, TYDVERDRYWE EN BELANGSTELLINGS

  • Koi-visse
  • Speel kitaar en sing en skryf liedjies en ondersoek liedjies wat deur ander geskryf is.
  • Kuier saam met vriende en luister na stories – én vra uit.
  • Restoureer en onderhou sy 1965 Ford Zephyr.

ONTSPANNING

  • Luister na musiek, braai en maak kos en hy leef hom in sy musiek uit.
  • Kyk graag na goeie rolprente.
  • Draf en oefen.
  • Gaan kuier by vriende wat snaakse vertellings, grappe en stories deel.
  • Gaan luister na musikante by pubs.
  • Sit by die Koi-dam,  luister na agtergrondmusiek en drink ‘n dop.

VAKANSIE

Danie hou van vakansies weg van die see af;  in die natuur en bos tussen die voël- en bosgeluide.  Desember is soms moeilik vir hom by plekke waar vakansiegangers bymekaar kom. Dit raak net te veel en te woelig. Daar is geen rustigheid nie. Op sekere plekke saam met sekere mense kan hy vir ‘n kort rukkie lekker vakansie hou.  Hy toer graag, sonder om te weet waar hy die volgende aand gaan slaap. Hy het drie jaar gelede sowat 5 000km, alleen met sy 1965 Ford Zephyr rondgetoer.

FIKS EN GESOND

  • Draf en oefen deur die week.
  • Goeie dieet;
  • Ontspan voor die TV met flieks ná werk.
  • Probeer so veel moontlik slaap deur die week.

VERSLAWING

‘Workaholic’. Hy het nou, omdat hy ouer is, ‘n bietjie meer tyd vir homself begin maak…
Whiskey en rooiwyn, braai en luister musiek.

‘N SELFIE

Die mens: Stil en rustig – wat soms ook sosiaal wil wees, maar meestal alleen by die huis of op toer is om nuwe plekke en mense te ontmoet.
Die beroepsmens: Hardwerkend en toegewyd en presies met wat hy ook al doen.

Voorkoms en afmetings

  • Oëkleur: Grou – iets tussen blou en groen.
  • Haarkleur: Donkerbruin met natuurlike blonde streaks – afhangende van hoeveel tyd hy in die son deurbring.  Lately het daar grys hare begin verskyn.
  • Lengte:Omtrent 6 voet 4 duim.
  • Gewig:Tussen 90 en 92 kg.
  • Broekgrootte: 34X34
  • Hempgrootte: Afhangende van die maak – tussen ‘n large en X-tra large.
  • Skoennommer: Afhangende van die maak – 10 tot 10/half tot 11.
  • Modeprentjie:  Glad nie modebewus nie.  Was ook nooit gewees nie; miskien ‘n bietjie in sy tienerjare – dit was die tyd van die Softshoes gewees. Maar hy is selfsorg- en voorkomsbewus.

In en om die huis

  • Yskaswenke: Water, melk, vis, sop.
  • Broek- en hempsakwenke: Altyd leeg, behalwe as hy uitgaan – sigarette en sleutels.
  • Paneelkissie- en kattebakwenke: Gewoonlik net die laaste CD wat hy geluister het in sy paneelkissie. As Danie langpad ry met die Zephyr, pak hy die kattebak met sy toolbox en water en olie en dies meer – as iets sou gebeur.
  • Tekortkominge: Hy kan baie keer só op ‘n sekere ding fokus dat hy vergeet van die mense en dinge om hom.
  • Bederfie: Raak net weg en ry en gaan raak rustig in die bos. Soms kan hy homself die hele naweek in die huis toesluit en net alleen verpoos.
  • Gunstelingklank: Mandolien. Die fyn, afgeronde klank val lekker op sy oor.
  • Blyplek:  Danie bly teen die see in Beachview – net buite Port Elizabeth. Buite by die Koidam is vir hom die lekkerste, want dit is stil en rustig daar.  Ook in sy studio vind hy verposing. Hy voel rustig en afgesonderd daar.
  • Danie en diere: Hy hou baie van diere. Een van sy beste vriendjies was sy Schnauzer-hond, Flippie.
  • Danie en mense: Hy hou van mense, maar hy hou nie altyd van crowds nie. Hy is eintlik maar van kleins af ‘n alleenloper.
  • Vaardigheid: Hy is vaardig met kosmaak en kan ook redelik handewerk doen.
  • Kosbaarste besitting: Sy eerste rooi kitaar wat sy ouers vir hom gekoop het; hy het dit nou nog.  En sy Ford Zephyr.
  • Berou: Danie wens hy kon die laaste aand saam met sy ma by die see gaan stap het. Hy het egter iets anders aangehad, wat hy kon en moes kanselleer – maar hy het nie… Sy ma is net daarna oorlede.
  • Dis IN: Die nuwe generasie met nuwe denke en maniere om die lewe aan te pak – sónder voorskrywing. Dit is waaghalsig en gevaarlik, maar dis die lewe en ‘n mens kan ook uit hul ervarings leer.
  • Dis UIT: Drugs en mense wat op ander teer en trap om bo uit te kom.
  • Dit is dalk OUKEI:  Dis ‘n moeilike ene dié, sê Danie, want hy is ‘n Weegskaal en bevraagteken alles. Dit hang af wie die persoon is of wat die situasie is en dit hang ook af af wie gaan ly as die persoon se optrede of situasie ‘n negatiewe gevolg gaan hê op ander mense of situasies…
  • Kinderdroom: Dat die Here sy pa en ma en sussie op ‘n mooi manier sal vat.
  • Toekomswens: Dat almal se drome sal waarheid word.
  • Lewenslied: Oulap se Pad & Die Stem van my Siel

GUNSTELINGE

  • Liedjie van alle tye:  CCR se Have You Ever Seen The Rain? Dit is ‘n timeless song.
  • Argitektoniese style:  Mario Botha se laat, moderne beweging. Hy ontwerp in die styl van “The Complexity of Simplicity”.
  • Kunswerke en skilders: Van Gogh en Rembrandt. Hul skilderye vertel stories. Keith Alexander se super-realisme.
  • Leesstof:The Fountainhead deur Ayn Ran. Elke kunstenaar moet dit lees.
  • Rolprente: Driving Miss Daisy en Scent of a Woman: Dit is so waar in ons almal se lewens; never judge a book by it’s cover.
  • TV-kykstof: Chanell History en National Geographic.
  • Blom: Sonneblom; sy ma se blom. Hy gebruik ook sonneblom in sy liedjies as hy na haar verwys.
  • Plant: Malva-plant. Dit is die laaste plant wat sy ma vir hom geplant het. Hy travel steeds saam met Danie.
  • Wilde dier: Wolf. Baie skugter diere waarvan mense in SA nie baie van weet nie.
  • Troeteldier: Hond. Hulle is mos maar mensies.
  • Kleur: Grysblou.
  • Geur: Die geur van vars rooigrond. Dit laat hom rustig voel.  Ook die onderkant van honde se pote – dieselfde geur as vars rooigrond.
  • Smaak: Kaneel.  Dit maak hom rustig. Sy ouma se kombuis het altyd na Kaneel geruik.
  • Gevoel: Die son op sy lyf in die somer. Dit laat hom gesond voel.
  • Motor:  Ford Zephyr
  • Sport: Hou van alle sport.

VERPESGOETE

  • Mishandeling in enige vorm of formaat.
  • Iemand wat steel of wegvat van arm mense.
  • Leuenaars
  • Arrogansie
  • Mense met geen respek vir ander nie.
  • Negatiewe mense wat oor alles kla, terwyl hulle genoeg in die lewe het.
  • Geldgierigheid.
  • Iemand wat besluite namens hom neem wat sy vrye tyd betref.
  • Iemand wat heeltyd vir hom wil sê wat hy moet doen, terwyl hyself daardie besluit kan neem.
  • Mense wat ander mense gebruik.

GENOTDINGE

  • Op stage met sy kitaar waar hy ‘n show doen vir mense wat sit en luister.
  • Goeie musiek – musiek met mooi woorde/stories/wysies.
  • Stories uit die verlede – veral oor sy familie wat hy nooit geken het nie.
  • Stories oor ander interessante mense – bekend of onbekend.
  • Diere
  • ‘n Goeie movie
  • ‘n Goeie dokumentêr
  • ‘n Goeie musiek-show
  • Positiewe mense met positiewe geselskap.
  • Sy familie

ROLMODELLE

  • Afrikaanse musiek
  • Anton Goosen
  • Dawid Kramer
  • Groep 2
  • Piet Botha
  • Koos Du Plessis
  • Karen Zoid

Engelse musiek

  • Creedence Clearwater Revival
  • Bruce Springsteen
  • Cat Stevens
  • Fleetwood Mac
  • Bob Dylan

Indrukmakers

  • Bruce Springsteen
  • John D Rockefeller
  • Nelson Mandela
  • Gary Player

Musiek

Video’s

Kontak

Epos:

daniel@eeuwrick.co.za

Media Navrae:

Lydia Winchester

011 475 2187

082 554 8453

lydiaw@mweb.co.za